VOORBLADMATERIAAL

Hoera! Die Huisgenoot is ‘n 100 jaar oud. En dus genoeg rede vir die uwe om die stilswye van die afgelope paar maande te breek:

Was daar al ooit ‘n publikasie wat ‘n mens opeens en tegelyk kon laat ween en kreun van lekkerte? ‘n Upper EN ‘n downer terselfdertyd? Popsterre se loopbane word gebou en afgebreek, skobbejakke word ontbloot net om die volgende week hul kant van die storie te kom spin.

Vir die Afrikaanse sanger is Die Huisgenoot ‘n ongemaklike bedmaat. Met die grootste sirkulasie syfer in die land en gerat soos die Departement van Binnelandse Sake in die laat 80’s, is dit ‘n publisiteit masjien waarsonder die groot sterre nie sou kon klaarkom nie.  Maar dit kan oornag jou grootste vyand word, en dan is jou enigste hoop om te glo dat daar nie iets soos slegte publisiteit is nie.  Iemand soos Amor Vittone ken dit maar al te goed.  Sy is die Queen Mother. Sy het dit al als gesien. Sukses. Geluk. Sensasie. Dwelms. Tragedie.  En soos ‘n hoofkarakter in ‘n Hollywood film kan ‘n mens nie agterkom of sy ongoddelik dom of verbasend slim is nie.  Haar opvolger is die blonde Karlien van Jaarsveld wie se manewales, miskraam, ongelukkige huwelik en daaropvolgende skeisaak gereeld die voorblaaie ophelder.

Ek sou ‘n komma byvoeg: “Ek moes my verslawing oorwin voor ek my seun kon help, hoor”

Om Popster of akteur as loopbaan te kies vereis dat jy persoonlike aspekte en konnektasies wat deur die musiek kopende publiek as negatief of beperkend gesien word, moet ignoreer of soms ontken. Vele akteurs en sangers se beeld word so beheer deur hulle bestuurders wie weet waarna publikasies soos Huisgenoot en kanale soos KykNET soek. Laasgenoemde is spesifiek eng oor die tipe akteur of musikant wie hulle deur hulle monopolie bevorder. Maar wag, ek dwaal af. Gaan lees liewer die boek  – Dogters van die Broederbond: ‘n Indiepte ondersoek na die patriargie soos beoefen deur die lesbians van KykNET – binnekort beskikbaar by NB Uitgewers.

My gunsteling reeks artikels (dit lees letterlik soos ‘n sepie) in Die Huisgenoot dokumenteer die ongemaklike klim en val van die liedjieskrywer en sanger Rudi Claase pynlik en sonder skaamte. Dit het alles wat ‘n mens se hart begeer: Smaaklose uitrustings, plattelandse roem, glansryke lewenstyl, ‘n skielike troue, gay seks, dwelms, owerspel, selfmoordpogings en baie oor en weer slegsêery op die maat van treffers soos hierdie:

U sien, ek wil Amor, Karlien en Rudi sien sing in hulle eie huise, in hul eie klere, oor hul eie mense. En so het ek dit goed gedink om ter ere van bogenoemde tydskrif en die mense wie my so deeglik elke week vermaak ‘n musical neer te pen. Sien dit onder ligte: Die Huisgenoot – Die Musical! ‘n Film deur Jakob Jaarappel. Want na die sien van liewe Karen Zoid se Waar was jy – wat sy geskryf het vir Huisgenoot se 100 jarige verjaarsdagvieringe – dink ek my huldeblyk sal soveel meer van pas wees.

G’n mens het tyd vir ‘n verhoogproduksie nie. Nee. Dit moet direk na Youtube. Geen beperkende teaters en onnodige kaartjieverkope nie. Natuurlik sal ek die naam moet verander aangesien die grootkoppe by Naspers en Media24 (fok daai gebou is lelik) seker sal kapsie maak teen sekere aspekte van die film. Dus is die werkstitel Voorbladmateriaal. Een woord.

Ek soek Almodovariaanse invalshoeke op enkels, rokspante en neusgate. Ek soek helder kleure en peach. Ek soek liedjies wat die gehoor aangryp, skok en niks te doen het met die storielyn nie. Ek soek Arial Black as font. Ek soek colour grading soos in die fliek Drive. Ek soek Marga van Rooy in ‘n cameo en Amor Vittone in die hoofrol. Ek soek kameras wat nie zoom nie.  Verbeel jou:

37ba491d44155735e4d470a747ffb97a

Marlyn Roos, Afrikaanse poplegende nou in haar 40’s maak haar onsmaaklike wit voordeur toe. Sy draai om en kyk stip verby die kamera met ‘n vonkel in haar oë. Haar lippe beweeg soos haar tong oor haar tande streel. Dan speel skielike dramatiese stryker musiek wat glad nie pas by haar gesigsuitdrukking nie. Die Titel VOORBLADMATERIAAL skuif van links na regs oor die skerm in Arial Black. Die kamera fokus enkelhoogte op haar skoene soos sy die gang af stap na haar wit kombuis.

Met die volgende skoot sien ons van bo af hoe Marlyn ‘n dun wit lyn poeier in haar neus opsnuif vanaf die toonbank. Langsaan lê ‘n Huisgenoot met haar gesig op die voorblad. Die opskrif is “Marlyn Roos: Huwelik verbrokkel na dwelm orgie met biseksuele minderjarige.” ’n Nabyskoot van haar gepoeierde neusgat volg. Dan begin sy aandete voorberei en praat:

 Toe ek jonk en ambisieus was, het ek nie sulke dinge nodig gehad nie. Ek het edele gedagtes gehad oor musiek en seks. Toe was ek kwaad vir myself en my familie. Kwaad vir my onbeholpenheid. Kwaad vir my vervelige opvoeding. Kwaad vir die mense rondom my. Ek het my vuiste na die hemele geswaai en woedend geskreeu “Ek het niks om oor te sing nie!” My lewe was so alledaags. Of so het ek, in my onskuld, gedink. Maar nee. Ek wou liewer soos Debbie Harry lelik sit in tights op TV.

En nou lees my lewe soos ‘n oneindige storie uit die Huisgenoot. En week na week word ek uitverkoop. 

Woedende musiek begin. Marlyn sing:

Ruggesteek. Broekgenaai

Stelselmatig afgemaai

Die een sê dit, die ander dat

Vee geheime onder die mat

Bietjie dom. Vroeg getrou

Nou hou hy van ‘n ander vrou

Wispelturig sy humeur

Klim die korporatiewe leer

En ek ‘n ster in eie reg

(Jissis. Fok. Die goed proe sleg)

Moet my eie paadjie loop

 Help om koerante te verkoop

Met my doos onwederhelfde

Is dit week na week dieselfde:

Vat my, koop my, slaan my oop

Lees my soos ‘n Huisgenoot!

 

 

Toe julle: I can smell a hit!

Pousetyd by die Filmfees

En nou, sonder verdere gebabbel, hier is vanjaar se Jakob Jaarappel Toekennings vir die Fynkyker:

silwerskerm

Hoe wonderlik was dit nie om laasweek KykNET se Silwerskermfees in die Bay Hotel in Kampsbaai by te woon nie.  Vir ‘n voyeur met my standaarde kon ek nie vir beter gevra het nie.  ‘n Konglomerasie van filmspesies soos die gebeur nie gereeld nie. Dit is beide filmfees en reuse media networking en spanbou biertent. Akteurs kom soek werk. Skrywers soek geld. Mediabase drink tee. Die branding en PR spul flint rond opsoek na ‘n oor en ‘n beursie. Dit is soos pousetyd voor interskole in die Hoërskool van die lewe.

Vir redes onverstaanbaar duister, is die uwe gevra om ‘n paar woorde neer te pen oor die fees. Ek is nie ‘n filmkenner nie en weet min van die bedryf.  Om die waarheid te sê, ek hou nie eintlik van films kyk nie. Meeste is aaklig en dus voel dit soos ‘n mors van tyd.  Dus het ek die afgelope 10 jaar geen ander films as die van Pedro Almodóvar gesien nie – hy is die enigste regisseur wat my honderd persent tevrede stel. Nou weet ek dis seker tipies Kaaps en onproduktief, en boonop eksklusief, maar hoekom mense nog probeer, verstaan ek nie.  Alle ander films kyk ek toevallig of onder dwang.  Daarby het ek drie jaar laas televisie gekyk. Die Huisgenoot word wel klokslag elke Vrydag om 12:30 gelees, maar dit is net om tred te hou met Amor, Karlien, Rudi en Burgerd – vir navorsingsdoeleindes. Ongelukkig was nie een van die lot teenwoordig nie. Bobby is wel gewaar maar die lyk deesdae soos ‘n verlore Pokemon.

004Charmander

BYSKRIF: Doen julself ‘n guns en gaan lees die artikel in laasweek se Huisgenoot oor Rudi Claase wat nou met ‘n vrou trou. Dit is ‘n fenomenale stuk skryfwerk.

Dus het ek toe beplan om meeste van die tyd  nonchalant naby die  toilette te hang in ‘n poging om agter te kom wie almal lyne doen (Exposè!), maar in klein dorpies mag jy nie waag om groot te droom nie. Die teleurstelling was onverwags.

Ek dwing myself toe om ‘n paar films te gaan sien – en het meeste, tot my verbasing, geniet. Die laagtepunt was ‘n speelfilm getiteld ‘n Man soos my Pa. Dit is vervelig, lank en dood geskryf deur Deon Opperman. Sy hand is sterk te bespeur in die onnodig oorwerkte plot twists en toevallighede. Daar was goeie akteurs, maar selfs die geliefde Dezi kon nie my kuif laat wip nie. Die musiek was so bland soos ‘n blomkool smoothie en daar was selfs ‘n liedjie aan die einde – danksy Sean Else se ongetemde ambisie – wat die twee meisies langs my hulle grimering laat afhuil het. Ek wou hulle betig en uitvra oor wie hulle ouers is, maar toe dink ek – wie is ek nou?

Ek het ‘n Paw-paw vir my Darling meer geniet. Martelize Kolver se opening shot is ‘n hoogtepunt. Maar die manewales van die Beeslaers was net te lig gespeel en ek het die donker ondertone van Jean Goosen se oorspronklike boek gemis.

Die lokprent van ‘n speelfilm wat ek wou sien vanweë die musikale onderwerp, Verskietende Ster, het my so afgesit dat ek dit toe nie gaan kyk het nie. Gelukkig het my informant en top film fundi Noëllette Feenstra my bedenkinge bevestig. Dié moes na die kyk van die film onmiddellik haar dokter bel vir ‘n inspuiting sodat sy haar bloedsuiker kon normaliseer.

Die eintlike hoogtepunt van die fees was die kortfilms. Ek was oorstelp deur die kwaliteit en werklik goeie konsepte te bespeur. Dit is hier waar die fees impak maak want dit gee nuwe regisseurs en skrywers die kans om nuwe projekte aan te pak.  Niks was so aaklig dat ek daaroor hoef te biets nie.  Ons sien hier nuwe stories wat met min geld en baie passie gemaak word. Dit kan, soos met vorige Afrikaanse speelfilms, die nukleus wees vir groter, meer ambisieuse projekte.  Daar is ook ‘n eerlikheid te bespeur in die kortfilms – ‘n betrokkenheid by die storie – wat uiteindelik deursyfer na die kyker.

Visueel was Skewe Reënboog ‘n fees. En nee. Dis nie ‘n gay film nie. Bedaar. Gavin van der Berg het soos ‘n Rip van Winkel verskyn uit die niet in ‘n slim maneuver deur regisseur Wim Steytler.  Sweisbril was ‘n aangename verrassing in die sin dat dit my aandag voluit gehou het.  Marcel van Heerden se eerlike Vryslag verdien sy prys, en bevestig die motto “skryf wat jy ken”.  Ek het Yvonne van den Berg gemis in Dominee-Truuks. En wonder of die vervaardigers gedink het daaraan om haar te nader?

Ek is seker julle sal meer volledige analise en opinies oor die films betrokke elders kan lees (As julle niks interessant vind nie, laat my tog weet – I can go on for hours!). Litnet sal seker nog vir weke besig wees om almal te verveel.  Wat my eerder interesseer, is die feit dat die helfte van die mense by die fees eks-Bloemfonteiners was. Ek jok nie. My vriendin, Mordent-Marie Visagie en mede-feeskommentator het daar groot geword en ken almal. Dit was by tye soos ‘n Bloemfontein skoolkoorkamp of ‘n Jim Fouche swemgala.  As ek iemand uit die hoek van my oog gewaar wat vir my lekker lyk, soos iemand uit ‘n Almodóvar fliek, dan is ek minute later aan die persoon voorgestel net om uit vind die is ook van Bloem. Hoe kan dit wees? Mordent-Marie, versamelaar van uitspattige persoonlikhede wat sy is, kon dit nie aan my verduidelik nie, maar het genoem dat dit dalk die verniet wyn kon wees – of die feit dat daar daardie aand geen rugby aan was nie.

En nou, sonder verdere gebabbel, hier is vanjaar se Jakob Jaarappel Toekennings vir die Fynkyker:

Beste Broek:  Armand Aucamp Dit was ‘n mooi helder blou en ek sou graag wil weet waar dit aangeskaf is.

Beste Romp:  Kabous Meiring  Dit is moeilik om plat skoene so te dra. Geluk.

Beste Arms:  Vilje Maritz  Nog nooit het ‘n karakter se dood my so bewoë gehad nie.

Beste Hare:   Dezi     Volume is nie maklik nie.

Beste Tiete: Dezi (skies Elma Postma)   No Comment

Nominasies vir Skermslet van die jaar: (Genomineerdes is dus uiters hardwerkend want hulle is in omtrent alles te sien.)

                Martelize Kolver

                Albert en Vilje Maritz

                Deon Lotz

                Neels van Jaarsveld

Aakligste Film:  Verskietende Ster   En ek het hoef dit nie eers te gekyk het nie. So erg was dit.

Aakligste Akteur: Die hond in ‘n Paw-paw vir my Darling.  Hy het gelyk of hy heeltyd almal wou byt.

Aakligste Aktrise: Amalia Uys  Vir redes onverstaanbaar vir my maar die stemme tel nou maar eenmaal op.

Beste Eks-Bloemfonteiner: Crystal-Donna Roberts  Sy was so vêr ek weet nie by die fees nie, maar what the heck. Hoera!

So ek het besluit dat ek myself van nou af elke jaar sal bederf met ‘n uitstappie na die Silwerskermfees, want mens wil jouself nou nie aspris afsonder nie en snobisme is sleg. Daarby voel ek nou geïnspireer om my groot droom met passie na te jaag, en vind ek dalk binnekort myself buite ‘n toilet naby jou.

Beste Kortfilm van Alle Getuies: La Concejala Antropofaga deur…wel…Almodóvar! Sou mens dan anders verwag?Geniet!

Gays, Gospel en die Gekners van Tande

Die Huisgenoot koop ek weekliks om myself op hoogte van die Afrikaanse nasionale psige te hou. Ook Die Burger se kleurvolle voorblaaie lok my om nou en dan een aan te skaf. Soos ‘n bytjie na die blom. Dan geniet ek dit om my hande in die lug te gooi, te vloek en met ‘n sug te uiter: As jy dom is moet jy kak.

21db0f1526a7cea033b5073118119e3e

Behalwe  vir die skep en luister van musiek is polemiek, vurige debatte en skandale my raison d’etre. Die Huisgenoot koop ek weekliks om myself op hoogte van die Afrikaanse nasionale psige te hou. Ook Die Burger se kleurvolle voorblaaie lok my om nou en dan een aan te skaf.  Soos ‘n bytjie na die blom. Dan geniet ek dit om my hande in die lug te gooi, te vloek en met ‘n sug te uiter: As jy dom is moet jy kak.

So het ek my koffie met mening omgestamp laasweek toe ek lees oor die NG Kerk/Gay debat wat tans in Die Burger woed, en skryf ek onmiddellik 3 briewe na die koerant. Nie een word gepubliseer – natuurlik nie – blykbaar omdat my “taalgebruik en algemene toon onvanpas is vir ‘n dagkoerant, maar” – probeer hulle my gerus stel – “ons sou dit wel publiseer as Die Burger ‘n ouderdomsbeperking van 16 gehad het.”  Dan om my verder te troos word daar bygevoeg: “U skryfwerk toon potensiaal. Hou so vol.” Kan jy nou meer! Dis wat my Afrikaanse onnie destyds ook kwytgeraak het.  My eer is gekrenk. Ten minste weet ek  joernaliste is gewoonlik mense sonder ambisie en verdien maandeliks minder as ‘n appelplukker buite seisoen. Die Afrikaanse joernalis is darem bietjie beter want diè het konneksies met die ou broederbonders en geniet  oorsese vakansies elke drie jaar.

Vir die van julle wat nie weet nie, bogenoemde debat handel oor of die NG Kerk gay dominees behoort te aanvaar of nie. Jy kan jouself die toon van sake net voorstel. Ou Ooms se skok. Jong hervormers se aanvaarding.  Gematigdes se apatie. Daar is ‘n mening vir elke kleur en geur onder die bekwame kuratorskap van die redakteur.  Maar dit als verveel my meestal.  Die moderne NG Kerk is redelik gematigd. Jy kan daar as gay lekker gaan uithang elke 5de Sondag of so en niemand sal ‘n oog knip nie. Die dominees preek oor die algemeen ‘n praktiese teologie. Hulle wil nie steur nie.  Hulle het geleer uit die sondes wat onder die Apartheidsregering gepleeg is.

Die kerke waar die eintlike probleem lê is die nuwer charismatiese kerke. Shofar, His People en vele soortgelykes verreis soos paddastoele in die onsedelike vroegwinter.  Hier word haat en oordeel weekliks uitgedeel in baie duidelike terme. Om gay te wees is hier ‘n besliste sonde. Soos Pedofilie en Moord.  Menigte jong mense skaar hulself vanweë persoonlike omstandighede by die kerke.  Hulle hou van die oppervlakkige gemaklikheid en oënskynlike eerlikheid. Sulke kerke gee hulle hoop op ‘n toekoms. Hulle paar vinnig af met die naaste persoon omdat voorhuwelikse seks natuurlik ook verbode is, en trou vinnig sodat hulle lustig hulself teenoor mekaar kan ontbrand. Kinders kom en hulle is vir ‘n leeftyd vasgevang in ‘n spiraal van onderdrukte ongemak en oppervlakkige goedheid, te gebreinspoel om hul anders logiese ingesteldheid op hul eie lewens toe te pas.

Maar die grootste “sonde” van hierdie kerke is die musiek wat daar gepleeg word.  Praise en Worship heet dit.  Daar is altyd ‘n blonde aster wat haar roeping as tert gemis het wat die gesing lei, en ‘n wannabe rocker wat sy talente mors deur niksseggende musiek Sondag na Sondag te speel.  Die lirieke is die ergste: Lord on High. We praise you. Please bless me with your goodness so I can be successful and make lots of money so I can go abroad twice a year and buy my wife dirty (if you know what I mean) underwear so we can make love and bless your name repeatedly.  Kug. Kug.  Jy kry die idee? En daar is niks mee fout nie. Ons is almal mense en moet doen wat ons moet doen.  But lets call a spade a spade…

https://youtu.be/2WdOPfao4KI?list=PL089D8AFA5E9ADEC1

En dan, liewe gemeente, wil ek afsluit met ‘n spesiale lied.  Die woorde is ‘n paar jaar terug geskryf deur my vriendin, die alombeminde Tert van Tamboerskloof – Sahara Skuimtiet, en getoonset in deklamatoriese styl deur die uwe, een Sondagoggend voor kerk. Ons ken baie mowwe wat kerk toe gaan en alhoewel ons hulle reg daartoe respekteer, verstaan ons nie hoekom enige gay in ‘n kerk wil gaan sit nie, behalwe nou as jy die orrel speel of die voorsang lei. Ek weet dit is ‘n veralgemening maar eintlik wil ons net vir die mowwe sê: Dis Ok. Jy hoef nie kerk toe te gaan nie. Jy hoef nie eers in God te glo nie. Ongelowigheid is die werklike verlosser. 

https://youtu.be/xUs2vC3BAS0

Bok van Blerk en die Werkinge van my Ooraktiewe Kuif

Bok lyk meestal moerig asof hy binnekort iemand gaan bliksem want hulle moes seker lank oefen om almal se vuiste gelyk in die lug te kry.

bokvanblerk_sing-afrikaner-sing_albumcover_post_detail_web

Dit is met groot jammerte dat Bok van Blerk se nuutste uitreiking – Sing Afrikaner Sing – vandag hier ter sprake is.  Ek wil graag skryf oor dinge wat mooi en positief is, wat die hart laat sing, wat die gemoed streel – en ek gaan nog eendag – maar ek kan myself nie keer nie.  Met aanskoue van sy nuutse video het daar so ‘n emosionele verontregting in my opgebou dat ek dit middeldeur moes stop en besin oor die feit dat daar werklik nie ‘n God kan wees nie. Is daar ‘n goeie rede vir my onsteltenis? Of is ek net sensitief? Hoe ookal – ek as Suid-Afrikaner kan dit nie onuitgedaag laat nie.

Gaan kyk die video op sy website:

Bok se Tuiste

Die begin van die video lyk heel belowend – Die boodskap blyk te wees dat Afrikaans as taal mense bymekaar kan uitbring.  Taal is ‘n gemene deler en kan gebruik word om brûe te bou tussen gemeenskappe.  Maar dan tref die eerste vers jou:

Jy mag niks meer sê jy is klaar gepraat

Dis ‘n hartseer saak wat ons almal raak

Want die groot verraad kom vanuit ons eie mense

Rooi ligte flikker êrens in my onderbewuste. My kop tilt effens na regs.  My kuif verloor trefkrag.  Ek verstaan nie.  Wat presies is ‘n hartseer saak? Hoekom mag jy niks meer sê nie? Is dit ‘n hartseer saak dat jy niks meer mag sê nie? Wat is die konteks. Wat gaan aan? Van watter verraad sing hy? Die hensoppers? Die ja-stemmers?  Nou goed. Bedaar. Bok verduidelik verder:

Want die een skeur die woorde van ‘n ander op  (Dalk soms ‘n goeie idee…)

En gebruik dit net vir sy eie lot

En hy staan vir niks – nie soos ek en jy nie

Ek weet dit sal verander, die wiel sal eendag draai.

My kop is skielik regop. My kuif wip. Hier is ‘n saak om voor op te staan.  Hier word ‘n lyn getrek.  Aan die een kant is dit Bok en ek neem aan sy fans – aan die ander kant – wie?  Mense wat staan vir niks? Die wat jou woorde kritiseer en dit gebruik vir hulle eie ondergang?  Hoe werk dit?  Wat moet verander?  Is dit ‘n pro DA liedjie?  Een ding is seker: Bok is nie gelukkig nie.  Dan die koor:

Sing Afrikaner Sing

Laat jou stem gehoor word

Laat jy nooit verdwyn

Sing Afrikaner Sing

As ons almal een word

Kan ons die stilte breek

Aha! My skouers val in verbasing. My kuif val plat. My kop sak vorentoe terwyl ek die muis bewerig probeer vasvat om die musiek te probeer stilmaak. Nou maak dit sin. Ek is gevang deur een van die oudste tricks in die boek.  ‘n Vae liriek in die strofes wat jou laat wonder – waarna hy die storm loslaat in die koor.  Hier is hoe ek dit verstaan tot dusver: Die Afrikaner se mond is gesnoer en mag “niks meer sê” nie.  Ons eie mense – moderne hensoppers – verraai ons en skryf lelike dinge oor ons in koerante en boeke.  Maar dit sal hulle eie ondergang wees want die wiel gaan draai. Die Afrikaner moet saam staan en die “stilte breek”.

My bok-bok staan lankal nie meer styf nie.

Die vierde strofe ontstel my verder:

Want die dag sal kom dat die koning val

(Zuma? God?)

En plek moet maak vir ‘n generaal

(De La Rey is lankal dood. Steve Hofmeyer? Mmusi?)

Wat hom uitoorlê met sy eie mense

(Gaan al die Zulus stem vir Steve?)

Wat!?

Nou is ek weer heeltemal deurmekaar.

Die koor word dan ‘n paar keer herhaal in goeie opsweepstyl.  Almal in die dorpie volg Bok na ‘n saaltjie waar hy soos Jesus (kompleet met ‘n lig van agter) preek vir sy gemeente.  Vuiste word in die lug gegooi en later ook op die bors gesit soos met die sing van ‘n volkslied. Dis ‘n gevaarlike mengsel van religie en nasionalisme.  Klink dit bekend?  Bok lyk meestal moerig asof hy binnekort iemand gaan bliksem want hulle moes seker lank oefen om almal se vuiste gelyk in die lug te kry.

Hierdie tipe opsweping is vir my gevaarlik omdat dit misbruik maak van die frustrasies van gewone Suid-Afrikaners. Ons is almal bewus van die situasie in die land en behoort dit nie te ontken nie, maar om te sê dat Afrikaners gemuilband of gesensor word is tog loutere nonsens. Ons is meer vokaal as ooit. Opinies word wyd en suid in koerante, boeke en op sosiale media gepubliseer. Ons is dalk nie meer die primêre stem nie – maar eerder deel van ‘n groter Suid-Afrikaanse prentjie.  Bok se Afrikaners moet ‘n “stilte” breek wat daar nooit was nie.  Hulle moet saam kloek en saam baklei vir ‘n onsigbare doel.  As ek reg onthou het die Afrikaners nie baie goed gevaar die laaste keer toe hulle “een” geword het en meestal vir die Nasionale Party gestem het nie, of hoe? Jirre. Afrikaanse mense is so verbaster en verbrou oor die eeue – hulle is so anders van mekaar –  dat dit onmoontlik is om ‘n homogene volk of nasie te vorm. Ons is nie eers naastenby almal so nie.  Maar daar sal seker genoeg ontnugterdes saamtrek by feeste vir Bok om sy geld te verdien. So die illusie en droom sal voortleef.

die-antwoord-Sonar-Festival-Barcelona
Die Antwoord en Bok van Blerk in dieselfde span?

Toe nou, toe nou. Hokaai. Ek vat dit darem nou te ver. Die liedjie is geskryf vir ‘n sekere mark wat eintlik net wil goed voel oor hulself en trots voel oor wie hulle is en ek moet hulle dit gun.  Natuurlik. Maar as musiek besoedel word deur goedkoop politieke sentiment aangevuur deur ontluikende rassisme en wanaangepaste Afrikaanse nasionalisme dan wil my kuif niks weet van regop staan nie.  Hy wil nie eers wapper in die wind nie.

En deur die tirade wil ek nie neerhalend wees teenoor Afrikaanse musiek nie – ek wil net sê :

PJ stupid people-2

En nou vir ‘n bietjie goeie nuus:  Die Antwoord is een van die headlining acts by vanjaar se SONAR Barcelona – die wêreld se invloedrykste elektroniese musiek fees.  Hulle deel die verhoog met o.a The Chemical Brothers, Skrillex en Duran Duran.  Nog ‘n Suid-Afrikaanse groep, Black Coffee, is ook daar te siene.  Dit is ‘n ongelooflike prestasie want SONAR is nie jou normale EDM gooi hande in die lug fees nie.  Dit word elke jaar saamgestel om die beste en innoverende elektroniese musiek groepe van regoor die wêreld te verteenwoordig.  En hallo! Die Antwoord is Afrikaans! Kug. Kug.

Gepraat van Black Coffee. Die was deel van die openings aand van die beroemde club Circoloco at DC-10 op Ibiza. Mede Suid-Afrikaner Culoe de Song se “Y.O.U.D.” was die hoogtepunt van hulle set –  luister gerus hieronder om te hoor hoe Suid-Afrikaners hulself oorsee laat geld.

Komaan Afrikaners/Afrikaanses/Afrikane!

Maak my kuif styf.

Afrivisie en die Onderskatte Volk

Die keuses wat gemaak is spreek boekdele oor die wat in beheer is se duidelike onbegrip van die musikale lê van die land.

kn_afrivisie_promo_atkv_900

ʼn Afrikaanse liedjieskryf kompetisie geskoei op Eurovision genaamd Afrivisie is onlangs afgesluit met groot fanfare by ʼn glansryke finaal met Herman Kleinhans en sy liedjie “Ek Sweer” as wenner.  Het die kompetisie, soos belowe,  nuwe en vars stemme ontgin vir die beterskap van die Afrikaanse musiek bedryf? Het Afrivisie oorspronklike en interessante nuwe kunstenaars opgelewer? Of was dit maar weer –  net meer van dieselfde?

Die struktuur van Afrivisie is baie anders as Eurovision s’n omdat die 26 finaliste deur beoordelaars gekies is en nie voor gestem word nie. Eurovision is ook streekverbonde, waar elke streek sy eie wenner kies om aan die finaal deel te neem.  Dit is ʼn belangrike onderskeid omdat kyker deelname by Afrivisie net vanaf die top 26 plaasvind, en dus baie beperk is.  Ek sal graag meer wil weet oor die beoordelingsproses en hoe die beoordelaars, KYKnet en die programbestuur juis op diè 26 liedjies besluit het? Is dit werklik die beste liedjies wat daar was?

Ek glo nie.

Die liedjies wat in die top 10 ingestem is, is oor die algemeen beter as die res.  Dit blyk asof die beoordelaars besluit het om sommige liedjies te kies omdat hulle dink dit is verteenwoordigend van die Afrikaanse karakter en tipies van die Afrikaanse musiekbedryf. “Hier julle. Dit is mos waarvan julle behoort te hou.” Daar is ‘n paar liedjies wat nie eers die uitdunrondtes moes gehaal het nie, maar ingesluit is in die top 26 omdat Afrivisie sy gehoor heeltemal onderskat het. En dit is bewys deur die beter gehalte liedjies wat in die top 10 ingestem is. Ons is nie so dom soos wat julle dink nie, dus.

Nog ʼn irritasie is die insluit van Emil Struwig se inskrywing “Hemel in jou oë”. Hierdie liedjieskrywer is oorspronklik op TV gesien saam met Heidi Ederling om Afrivisie te bevorder en daar is aangeneem dat hy deel is van die Afrivisie span. Dat sy liedjie die top 26 gehaal het is dus vir my effens sinister. Hy het oor die algemeen ʼn goeie oor vir ʼn catchy koor, maar sy lirieke is genoeg om my na ‘n ontydige dood (na die sluk van 50 slaappille) te dryf.  Hy was wenner van die Huisgenoot Liedjieskryf Kompetisie met “Papsopwinterwaternat”, ‘n waardige treffer, maar wat uit sy pen sou volg laat my gereeld bloos van skaamte. Hier is ‘n voorbeeld van sy liedjie “Hart Soldaat” gesing deur Antonie Bougas (wie se nuwe album binnekort vrygestel word) – a match made in Hell:

Ek hoop regtig Antonie Bougas spandeer op sy nuwe album ‘n bietjie geld op ‘n stilleerder.

Hier is Emil Struwig se “Hemel in jou Oë” gesing deur JaneDuke, wat Afrivisie se Top 26 gemaak het.

So is ook Hugo Ludik en Reynardt Hugo se inskrywing vir my van dubieuse aard.  Hulle liedjie “Die Idee wat Tel” laat my wonder of hulle nie dalk vir hulle “ster” status eerder as hulle liedjieskryf vernuf in die top 26 beland het nie. Let ook op hoe die sanger sy oë styf toeknyp as hy die woord “seer” sing.

Dit blyk ook dat die top 26 liedjies vir ʼn oorheersend wit gehoor geskryf is.  Waar is die Hip Hop? Die Rap? Die Riel dans!? En hoekom is Afrivisie nie meer gay nie? Eurovision is die gayste program ooit!  Hoekom is daar besluit om daardie aspek van die program te vermy? Of mis ek iets?

Natuurlik was daar goeie liedjies ook. Liedjies wat in jou kop bly vassteek en wat werklik iets het om te sê is skaars, en Afrivisie het dit reggekry om ʼn paar van hulle uit te sif. Daaroor is ek bly en trots, maar selfs diè het meestal gely aan “klink-soos-iets-anders” sindroom.  So was Afrivisie die moeite werd? Ja en nee.  Ek voel oneindig jammer vir talentvolle liedjieskrywers wie uitgelaat is uit die top 26 omdat hulle liedjie dalk “te goed” of “te slim” was, of bloot nie in die beoordelaars se agterlike visie van wat Afrikaanse musiek behoort te wees geval het nie.

Die beoordelaars het gereeld gesê dat hulle liedjies soek wat by ‘n breë groep mense aanklank sal vind. Hulle het duidelik hulle eie doelstellings geïgnoreer.  Te veel van die liedjies was vervelig en eentonig en het geklink of mens dit al ʼn duisend keer van tevore gehoor het.  Te veel liedjies van bedryf gunstelinge het sonder meriete in die top 26 beland.  Die keuses wat gemaak is spreek boekdele oor die wat in beheer is se duidelike onbegrip van die musikale lê van die land.  Daar was met die inskrywings aan liedjieskrywers gesê dat hulle vars en nuwe werk soek.  Hoe moedig jy kreatiwiteit en oorspronklikheid aan deur dan juis die teenoorgestelde te bevorder?  Dit is oneerlik.  Dalk was daar net nie genoeg kwaliteit inskrywings nie. En anyway – dis net ʼn kompetisie en ons almal weet kompetisies tel nie regtig nie…

Ten slotte  ʼn paar opmerkings oor inskrywings wat my oog gevang het:

Rozanne Kahts se “Lullaby” sal enige iemand twee keer laat dink voor hulle ʼn baba kry. Dit ontroer niemand behalwe alleen-oumas en pedofiele nie. My gunsteling liriek is wel in die liedjie teenwoordig: Saggies en teer lê ek jou in my wiegie neer. – Sug.

Carle van Deventer en Joe Foster sing my regtig aan die slaap met “Sing my aan die slaap”.  Maar dalk is dit die doel? Dit is polskouend aaklig.

Die wen liedjie is vir my totaal onopvallend, behalwe dat daar ooreenkomste met Francois van Coke en Karen Zoid se  “Toe vind ek Jou” is – wat seker nie so ʼn slegte ding is nie. Dit is wel een van die beteres.

Gera Phielix se “Reën” klink soos Tori Amos op tik.  Die liedjie probeer spreek tot voorstedelike kunssinniges, christene en Afrikaner nasionaliste, ‘n konkoksie van onsinnigheid.

Heidi van wyk se “Verlangebaan” oortuig heeltemal.  Dit is onopgesmukte Pop wat nie irriteer nie.

ʼn Liedjie waarna ek ook meer as 2 keer kan luister is Antonie de Jager se “Langpad na Later”.

“Iets om in te glo” van Mynhard Smit is ʼn triomf van Pop sentimentaliteit wat nooit verveel nie en ten spyte van die melodramatiese video ʼn treffer behoort te wees.  ‘n Bietjie borshare en gesinsgeweld was nog nooit te versmaai nie.

“Die Vure van Du Noon” van Tertius Cronje is ʼn goeie idee maar geskryf uit ʼn voorstedelike oogpunt en dus is dit amper patronizing.

Daar is nog baie maar ek is nou moeg.  Ek kan ek net na soveel middelmatigheid luister. En hiervoor blameer ek nie die kunstenaars nie. Liedjies is persoonlik en smaak verskil. Ek sal net graag wil sien dat die aan stuur van sake ‘n bietjie begin wakker skrik en besef watter potensiaal ons eintlik op sit, eerder as om die maklike uitwig te kies en ons te laat verstik aan meer van dieselfde.

In die volgende aflewering: Antonie Bougas se nuwe album geresenseer sonder sensuur.

Email my by jjaarappel@gmail.com.

Die Klaaglied van ‘n Pretbederwer

Afrikaners is soos bedorwe maltese poedels. Hulle kort almal ‘n harde klap op die boud en soms ‘n skop in die knaters, want hulle is besig om ons ganse kultuurskat te reduseer tot Afriforum Fondsinsameling Fietstoere, Portchie en ‘n Karlien van Jaarsveld CD.

Hoe heerlik is dit nie om deesdae so ʼn verskeidenheid van Afrikaanse vermaaklikheidsprodukte te kan geniet nie.  Daar word byna maandeliks ʼn nuwe Afrikaanse film uitgebring, en Afrikaanse musiek beleef ʼn ongekende oplewing.  As verbruiker kan jy kies en keur.  Daar is ʼn fees op elke dorp groot genoeg vir ʼn kerksaal en ‘n drankwinkel.  Afrikaners die land oor kan juig en jubel.  Films maak geld, pappas spandeer duisende op hul lieflingdogters se sangloopbane. Maar, sonder om afbreek te doen aan die wat sukses behaal het in so ʼn klein dammetjie soos ons s’n, is daar tog vir my ʼn tekort aan belangrike, onopgesmukte kritiek.  En daarmee bedoel ek kritiek wat uit ʼn ingeligte, wêreldwyse oogpunt gestel word deur resensente wat nie net die produk self beoordeel nie, maar ook die sosiale konteks kan verduidelik en terselfdertyd ook effens persoonlik kan raak, want dit is tog net ʼn mening en mens wil dinge interessant hou.  Ons is almal geregtig op ons menings, maar sommige meer as ander…

aa

Die onlangse trefferfilm, Ballade vir ʼn Enkeling, is ʼn goeie voorbeeld van ʼn produk wat veel meer kritiek verdien as wat dit tot dusver ontvang het.  Die publiek en meeste resensente kyk vas in die film se goeie (vir ʼn Afrikaanse film) kinematografie en klankbaan. Dat die rolle deur goeie akteurs vertolk word in plaas van sanger celebs word ook uitgelig. Verder word die film beskryf as baanbrekerswerk. Niemand noem die film se skaamtelose clichés en swak teks nie. Niemand noem hoe lagwekkend van die plot twists is nie. Niemand noem dat daar meestal min of geen motivering is vir wat karakters doen of hoe hulle reageer nie.  Byvoorbeeld.  Die tipiese baddie word uitgebeeld as ‘n narsistiese, egosentriese metroman met gay ondertone wat, shock horror, die arm, goeie en hardwerkende skrywerseun verkrag (anale penetrasie natuurlik).  Die kyker moet dus aflei dat die baddie net puur sleg is. Regtig!?  As jy werklik verkragting wil uitbeeld, wees eerlik daaroor.  Van Nierop het sekerlik Skoonheid gesien. Kon hy nie daaruit leer nie?

Hier is dus ‘n goedkoop, karikatuuragtige uitbeelding van ‘n verkragting wat gemik is daarop om die middelklasse so veel as moontlik te skok, omdat die skrywer te lui was om aan ‘n ordentlike storie te dink.  Ek sal nie weet of Leon van Niekerk gay is of nie, maar laas toe ek Armand Aucamp op die verhoog gesien het, het hy ‘n boyfriend gehad.  Van die verhoog af natuurlik. Hoekom hierdie tipe Hollywood stereotipes voortsit?  Om nie eers te praat van die die arme side-kick karakter Mysi nie. Wat sê dit van ons idees van vrouwees?  Maar tog.  Meeste mense met wie ek praat is mal oor die film.  As ek dan my opinie lewer word ek aangekyk as volksverraaier en pretbederwer. ‘n Arme siel wat goeie kritiek op die netwerk24 resensie lewer in die comments word summier aangeraai om sy “boude te chill”.  Vlae van beledigings volg.  Om krities te staan teenoor iets beteken nie jy het nie daarvan gehou het nie.  Dit beteken jy dink oor wat vir jou opgedis word, en jy engage die onderwerp, nie om lelik te wees nie, maar om te leer.  Dit beteken ook nie jy het nie respek vir die baie werk en moeite wat dalk gepaard gegaan het met die produk nie.  ʼn Film of ʼn boek of ʼn album is reuse projekte om aan te pak, en kunstenaars sit baie energie en tyd in, maar harde werk is nie altyd gelyk aan goeie werk nie.

destinations-dubai-buildings-hero

Dit herinner my aan ʼn middeljarige Afrikaanse egpaar op die vliegtuig terug huis toe vanaf Dubai.  Hulle was liries oor die plek.  “Alles is so skoon!  Alles werk!  Sjoe!  Hoe gelukkig is ons dogter om dit te kan beleef.  Ons is skoon depressief om weer terug te gaan Suid-Afrika toe. Korrupsie.  Slaggate.  Die bleddie ANC…”  Julle ken die verhaal.  En ek wou vir hulle sê “Nee!  Dubai is onmenslik aaklig.  Dit is kil en koud ten spyte van die hitte.  Daar is geen lewe nie, behalwe dit wat kunsmatig geskep word deur religieuse diktators met oneindig baie geld as gevolg van die onverdiende toevalligheid van olie.  Dubai is die uitspattige dop van ʼn Sheik se adolessente wet dream.  Ek kry julle dogter jammer.  Sy hoort by haar familie en vriende.” Hoekom was ek bang om my mening te lig?

SAMSA-Masjien

Nog ʼn voorbeeld van ʼn produk wat meer kritiek kon ontvang was Samsa-masjien, ‘n toneelstuk so vasgevang in sy eie slimheid en oordrewe andersheid dat dit min of geen impak kon maak op gehore wat nie gekultiveerd genoeg is om sy oneindige verwysings te kon snap nie. En jammer, full frontal nudity laat my net giggel. Dit versteur die gehoor se konsentrasie.  Soms probeer ons net te hard, en voel dit of ons vasgevang is 70’s New York.  Maar, weereens, is dit my opinie, en staan ek in verwondering teenoor die akteurs en tegniese spanne want dit was, ten spyte van my kritiek, ‘n belewenis.

En wat dan van opbouende kritiek?  Hoekom nie liewer ‘n positiewe bydrae lewer nie?  Die Afrikaanse mark is so klein. Moet ons dit nie liewer ondersteun en aanhelp, eerder as afbreek nie?  Wel. Natuurlik, maar dit maak uiters vervelige leesstof en is oneffektief. Afrikaners is soos bedorwe maltese poedels. Hulle kort almal ‘n harde klap op die boud en soms ‘n skop in die knaters want hulle is besig om ons ganse kultuurskat te reduseer tot Afriforum Fondsinsameling Fietstoere, Portchie en ‘n Karlien van Jaarsveld CD.

Bogenoemde uiteindelik van my bors af, kan ek kom tot die eintlike rede vir hierdie blog, en dit is musiek kritiek. Dit is wat ek behoort te skryf, maar ek voel soos op die vliegtuig van Dubai.  Ek haat ʼn geteem en ʼn gekla maar dit is nou maar eenmaal hoe kritiek vir baie mense gaan oorkom.  So ek gaan wegbreek van my jammeragtige Afrikaner maniere en van nou af skryf soos ek voel, sonder om bang te wees vir hoe mense sal reageer.  Dit is immers hoekom hierdie blog (teen my wil) anoniem is.  As jy regtig wil weet wie ek is, email my: jjaarappel@gmail.com. My identiteit is geen geheim nie.

En, O Afrikaners Jubel!, Afrivisie is met ons. Lees in my volgende blog meer oor hierdie musikale verskynsel. Gloves off y’all.

Afri-Visie1-1024x366-d7r93ihdzldi9ycd60xny98n13thumperix72lgvomqoic

Watter tipe dronke is jy?

Hulle spat jou mure vol rooiwyn, swem kaal in jou swembad, steel jou plate, vry jou getroude vriende en eindig heel moontlik ook saam met jou, na alles verby is, in die bed. Nie eers die heilsame daglig van ‘n vars oggend kan hulle keer nie.

strc-drunk

M’n vriendje, mag ik even met je praten
Want ‘t verward me, wat er met ons twee gebeurt
Heb jij dat ook, gevoel van angst dat je bekruipt
Als je alleen bent

Kaapstad in Desember is ‘n wonderlike plek. Hordes toeriste. Geen parkering. Aanhoudende wind. Ononderbroke partytjies. Babbelas oggende wat verander in laatmiddag drankies wat lei tot ongesonde aandetes wat lei tot nog drank en ‘n gedans êrens omring deur buitelandse toeriste wat lyne doen op toiletbakke asof die 70’s nie verby is nie. Op pad huis toe word iemand besteel of die Uber-drywer ry teen 20 km per uur die bult op. Jy raak dors wakker en moet te veel gaan piepie in die nag. Dit voel soos White Mischief sonder die morfien. Dan staan jy die volgende oggend met ‘n gevloek op net om die avontuur weer van voor af te begin. En so leer ek twee dinge: (1) Duitse meisies se gaydar is besonder sleg, en (2) jy ken nie ‘n persoon totdat jy hom of haar geheel en al snotters dronk beleef het nie. Daar is iets aan die dronk mens wat sy diepste geheime, foute en tekortkominge na vore bring. Hier is dus ‘n paar algemene tipes wat ek wil uitwys en bespreek. Buzzfeed is vir die gepeupel!

Die Slaapdronke

slaap dronk

Word gevind veral by huispartytjies. Diè een pass gereeld uit op die naaste bank nog voor die eerste glas gebreek het. ‘n Diepe slaap volg totdat meeste huis toe is en die gasheer tevergeefs probeer om van die slapende skoonheid ontslae te raak. Soms na ‘n midpartytjie slapie word die slaapdronke – nou uitgerus en lus vir kuier – wakker om die arme uitgeputte gasheer te oortuig dat die partytjie nou eers begin. Die enigste oplossing is dan ‘n wit leun of dwelms. Voorkoming is die beste en ook die eenvoudigste oplossing. Weerhou enige vorm van kos en versnaperinge vroegtydig. Magie vol ogies toe.

Die Poesdronke

Health_AngryDrunk

Die tipe is vir meeste bekend. Die persoon, gewoonlik vriendelik en rustig wanneer nugter, verander na ‘n paar drankies in ‘n ondenkbare monster. So ‘n persoon het ook altyd ‘n boesemvriend of meisie/verloofde (hulle trou nooit nie) wat konstant verskoning vra oor hul metgesel se gedrag. Hulle is veral lief vir brandewyn-en-coke en is meestal rassisties, homofobies, seksisties, islamofobies en het beslis ‘n ding vir net-net wettige meisies of seuns.

Die Vergeet-dronke

tumblr_mg20wmF2th1rj7u3mo1_250 (1)

Die tipe dink hulle kan hulself distansieer van hul vieslike gedrag die vorige aand deur die drank te blameer. “Jis ek kan niks onthou nie dit was seker die tequila shots.”  Dan is mens gewoonlik geneig om die persoon te vertel hoeveel kak hulle nou regtig aangevang het en hoe jy nooit weer saam met hulle gaan kuier nie. Dit is ‘n fout want dan raak die tipe veral defensief en maak jou uit as ‘n leuenaar en skinderbek. ‘n Mens moet dan eerder swyg en as daar gevra word oor die vorige aand se eskapades moet die aand se skandale in slegs een woord sinne oorgedra word. Hier volg ‘n voorbeeld:
Was ek baie dronk gistraand? Ja. Wat het ek gedrink?. Tequila. Hoelaat het ons by die huis gekom? Half vyf. So ons was nie huis toe na ete nie? Nee. Klub toe? Ja. Was ek darem OK? Nee. Waar is my broek? Weet nie. Het ek myself gedra? Nee. Was ek ‘n doos? Ja. Ek is jammer.

Die Nie-dronke

C_232918_DSC_9417-720x445

Dis die persoon wat op die oog-af nooit dronk raak nie en wie se stamina en deursettingsvermoëe almal bewonder. Maar moenie geflous word nie!  Hierdie skeinheilige pierewaaier wag net tot almal lekker gekletter is voor hy self sy eie opgekropte aggressie op sy arme mede dronkes uithaal. Gewoonlik is dit subtiel. Die mede dronkes se swakhede word uitgebyt en opgeblaas tot absurditeite. Argumente en ‘n straathoek geskel volg waarna die nie-dronke – as gevolg van sy kamma geskiedenis – as oorwinnaar uittree.  Dit is subtiele manipulasie op sy beste.

Die Huil-dronke

crying drunk girl

Hieroor gaan ek nie veel sê nie want ons almal ken hulle en diesulkes word nooit genooi nie. ‘n Abominasie van onsosiale onmenslikheid. Verwyder die tipe onmiddellik uit jou vriendekring en delete van Facebook. Niemand is lus vir ‘n gesanik oor verlore liefdes en geldprobleme nie, behalwe as jy self deur ‘n krisis gaan en iemand soek om mee saam te huil.

Die Wilde-dronke

Drunk-570

Hierdie is my gunsteling tipe. Hulle nooi gewoonlik hulself, neem die partytjie oor en verhoog die stand van samesyn tot nuwe hedonistiese hoogtes. Hulle spat jou mure vol rooiwyn, swem kaal in jou swembad, steel jou plate, vry jou getroude vriende en eindig heel moontlik ook saam met jou, na alles verby is, in die bed.  Hulle ken geen einde nie.  Partytjie is vir hulle belangriker as hulle werk, eggenote, kinders, ouers en Jesus. Nie eers die heilsame daglig van ‘n vars oggend kan hulle keer nie. Hulle het gewoonlik geen probleem daarmee om op werksaande te kuier nie en is dus ‘n slegte invloed. My kop sê bly weg, maar my hart sê nog-nog-nog! Ons wil almal soos hulle wees.

Die Jagsdronke

drunk-humping-club

Te vinde op vol dansvloere die wêreld oor. Hulle kom skuur teen jou op en probeer heeltyd oogkontak maak, asof hulle dink jy stel belang. Maar as gevolg van hulle onwelvoeglike eksterieur, probeer jy hulle liefs vermy. En durf jy net per ongeluk oogkontak maak dan sien hulle dit as ‘n teken om te begin chat en vat. Dan moet jy onmiddellik jou rug draai. Maar hulle sien jou dan as ‘n uitdaging, en sal nog harder probeer. Wees eerder eerlik en fluister vroegtydig vriendelik in die persoon se oor: “Ek het orals herpes. Jammer.”

So? Watter dronke is jy? En moenie maak asof jy nie dronk word nie. Ons is almal gelyk in die lig van die maan en die oë van ‘n dronke. Die tipe wat nie drink nie is of aardsvervelig en wanaangepas, of hulle het so erg gedrink in hulle onnoembare verlede dat een drankie sal lei tot naalde, prostitusie en babas. Sulke vriende sien ‘n mens net vir brunch.

Om dronk te word is maar net om mens te wees en ons almal smag tog net na ‘n bietjie samesyn. Willeke Alberti se lied Samen Zijn, kan heel gepas ook maklik iemand se liefde vir drank beskryf. Gaan luister, en dink ‘n bietjie na oor jou verhouding met drank, en hoe dit die mense rondom jou beïnvloed. Dankie Dominee. Kom ons sing saam:

M’n vriendje, mag ik even aan je hangen
Je warmte voelen, ook al is ‘t maar heel kort
Heb jij dat ook, gevoel van rust dat je bekruipt
Als je me aankijkt?